top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Bobaaskok vs Fitness Fanatic

Kyk, 2020 is nie enige man se maat nie. Ons het wel na die lewe met nuwe oë begin kyk, maar dis nie ‘n jaar wat iemand wat oorhê nie.


Tog is dit nie ‘n verspilde jaar nie. En sosiale media het beslis ‘n opwaartse kurwe getoon. Twee groepe het veral vir my uitgestaan. Ek praat nou nie van politici wat die pandemie soos hulle sterte hanteer het nie. Ek praat van die bobaaskok en fitness fanatic groepe.


Ek behoort nou nie eintlik aan een van daai groepe nie. Ek is ‘n gemiddelde kok en ‘n gematigde aktiewe mens. Ek hou van eet en drink en oefen. Laasgenoemde help my veral om nie in ‘n monster te ontaard nie. Manlief soek darem ‘n vriendelike vroutjie, so die oefening is sodat ek nie te kwaai raak nie.


Met die begin van die wonderlike 2020 het ek probeer om iets anders te doen in die oefenkamp en het toe begin Bounce, Pilates en tot ‘n stuitige paaldanssessie deurgewerk. Ek wil net sê, as ek so ietwat jonger was, nie dat ek oud is nie , sou ek dalk meer die paaldans ding gedoen het. My man sal beslis met ander oë na my en my vermoëns kyk, maar ek sal nou nie in diepte ingaan nie. Ek verstaan nou hoekom daai girls so goed lyk, want daardie paal werk elke moontlike spier in jou lyf.


Nou kyk, ek is ‘n rekenaar juffrou, maar dit beteken geensins dat ek ‘n tegno-slaaf is nie. Toe breek lockdown aan en my tegnologiese horisonne verbreed. Daar word ek toe ook ‘n Zoomfitness vrou … elke dag het ek gebounce en gepilates dat die spoeg spat. Ek was so beïndruk met myself en het heimlik gedink dat ek die perfekte lyf gaan hê na die lockdown – veral omdat ek my nie in ‘n wip laat vang het om ook piesangbrood te bak nie. Soos die lockdown verleng het en die mure my begin vasdruk het , het die lus vir zoomklasse soos my nuwejaarvoornemens verdwyn.


Manlief het gesien sy vroutjie is besig om cabinfever te kry en het toe maar vir my ‘n roete in die tuin gemerk dat ek darem so 5 km kan stap en drafsessies kan doen in die buitelug. Vir my twee honde was dit meer pret as vir my, want hulle het gedink ek was meer vir hulle vermaak daar as vir my fisiese oefeninge. Maar 80 keer om die huis en die enkelspoorpaadjie op my grasperk, het my van my trollie af gehad na ‘n kort rukkie.


Dankie tog , 1 Mei is die regulasies bietjie verslap en kon ons vir 3 ure buite ons huise gaan oefen. Ek onthou daardie dag baie goed. Ek het soos ‘n wafferse marathon atleet by ons hek uitgesprint en gevoel asof ek vlerke aan my voete gehad het. My drafroete het ek in ‘n persoonlike rekordtyd afgelê. Ek kon ook vir die volgende twee dae nie lekker loop nie omdat ek “shin splints” gekry het.


So breek die winter met ysige temperature aan … en word die zoomfitness vroutjie ‘n zoomkok. Weg is die slaai en geroosterde hoenderborsies en in is die bredies en roomsoppe. So waag ek toe ook my hand aan bak. Nee, nie piesangbrood nie, maar wel beskuit. Ek kry die beste resep. Let wel, gesondheidsbeskuit - All bran, neute, muesli, klapper, kersies en moet nie die botter vergeet nie … vreeeeeeeslik gesond. Ek verbaas myself en dit is ‘n treffer. Nodeloos om te noem … eet ek ook die baksel by myselwers op. Koffie en beskuit vir elke moontlike geleentheid - dit is mos gesondheidsbeskuit.


Daar word ons toe verplig om uit ons hibernasie te kom met dié dat ons weer moet gaan werk. Ek kan nie meer wegkruip in my sweetpakbroek en los t-hemde nie. Die lockdown het om my middellyf en heupe gaan sit …


So word ek deur my voller figuur gedwing van bobaaskok na fitness fanatic. Drastiese stappe is nodig om weer in my pre-lockdown klere te kom. Baie braaf boek ek my Donderdag Bounce en Vrydagoggend vyfuur Sweatklas. Ja, jy lees reg - vyfuur die óggend.

Laat ek julle nou net eers vertel … ek het April laas gebounce. Dit is 50 min. op ‘n trampoline oefen. Sweatklas is 50 min. se suiwer marteling. Ek wil nie eers in die detail ingaan nie. Ek moet ook sê, ek kan nie onthou wat ons alles geoefen het nie, maar toe ek dié Vrydagoggend uit daardie klas uitstap, toe voel ek die naweek gaan nie maklik wees nie.

Vrydagaand het die eerste styfheid ingeskop. Ek kon nie my lê kry deur die aand nie. My bene het sulke onwillekeurige rukbewegings soos ‘n hond met nagmerries gemaak. Saterdagoggend het elke moontlike spier in my lyf gepyn. Om toilet toe te gaan was ‘n proses. Om stadig te sit, maar jou bene wil nie na jou brein se seine luister nie, hulle wil nie buig nie en dan begin die proses weer as jy moet opstaan. Wat gewoonlik ‘n vinnige draai was, het nou in ‘n fyn beplande uitstappie ontaard. Dit het my twee ure gevat om te stort en hare te blaas.


Saterdag het ons ‘n kombuistee gehad. Met wat ry ons ? My vriendin se Landrover. Met pyngevulde geluide sukkel ek my alie af om in die kar te kom. Die uitklim is makliker, ek gly sommer net uit. Ek gaan vir julle sê, in my lewe was ek nog nooit so seer nie. Ek dink net my ore het nie gepyn nie. Die Dinsdag het ek eers terug na normaliteit gekeer. Daar word wel gesê “No pain,no gain”, maar ek weet net nie of ek so lekker saamstem nie. Ek is vas oortuig dat daardie persoon ‘n masochis is.


Dit kom nou van uitertstes in mens se lewe. Bobaaskok na fitness fanatic is beslis nie vir my nie. Ek moet maar liewer net myself wees.


Ek het wel besef dat mens maar net die heeltyd ‘n balans moet hou. Ek bak nou baie minder beskuit en oefen nou meer soos ‘n normale middeljarige vrou . Ek weet nie regtig of ek ligter is nie, maar my klere pas. Die sagte middeltjie is nog daar, maar hy moet maar wees. Die lewe is heeltemal te kort om alles wat lekker is uit te sny. En hou tog maar jou ouderdom in gedagte. Soos ek gesê het, ek oefen vir my siel en dan om alles wat lekker is te eet en te drink … veral my glasie wyn.


115 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


Post: Blog2_Post
bottom of page