top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Die dag toe ek my pa en ma moes groet

22 Junie 2017 was die dag toe ons my pa moes groet. Ek onthou die verskriklike seer gevoel in my binneste, asof iemand my hart uit my lyf geruk het. Alhoewel ons kinders oor drie verskillende kontinente gebly het, het my pa se dood dit reggekry dat ons almal met ons kids onder een dak was om te treur oor hom en daar te wees vir my ma. Saam het ons deur ʼn warboel van emosies gewerk. So vreeslik as wat dit klink het dit gepaard gegaan met baie wyn, dalk wou ons die seer verdoof daarmee. Saam gelag oor al die goeie tye en gehuil oor al die verspeelde kanse en tyd wat ons gemors het met onbenullighede. Een ding wat ons wel ordentlik kon doen was om afskeid te neem van my pa op ʼn manier wat ek weet hom gelukkig sou maak. Hy het altyd gesê: “moet nie huil as ek dood is of vir my wil blomme gee nie, dan is dit te laat”. Ons het sy 80 jaar hier op aarde gevier; hy het ʼn vol lewe gelei, seer was daar baie, maar sy liefde vir sy familie het daarvoor opgemaak.

Die dag met sy roudiens het ons ʼn klomp wit ballonne losgelaat , sy gunsteling liedjie ‘Seasons in the sun’ gespeel en baie whiskey gedrink - sy gunsteling drankie. Ons het gaan uiteet en ek onthou die kelner het gesê dat hy nog nooit so begrafnis beleef het nie. Ja ons het gelag en gehuil oor al die pyn, foute, vreugde en mooi herinneringe.


So bly my moedertjie agter, in ʼn mate het ons daai dag ook haar gegroet. Sy het haar rots, haar lewensmaat van 57 jaar aan die dood afgestaan. Haar lewe het uitmekaar geval. Kort na my pa se dood is sy met dementia gediagnoseer. In een jaar moes ons haar drie keer trek, die laaste keer was na die Alzheimersafdeling. Sy was nie baie gelukkig met ons nie, want sy kon nie meer loop waar sy wou nie. Buiten vir die dementia moes ons my ma ook toe nog beskerm teen ʼn klomp ou orige ooms wat my ma onweerstaanbaar gevind het. Kyk my moeder was ʼn baie mooi vrou, maar ek het meer oor my ma op 76 gestres as oor my kids toe hul tieners was.


Met elke kuier kon ons sien hoe meer agteruit sy gaan, dit was nie die ma wat ons geken nie. Dis asof my ma se diep donkerkant uitgekom het, woorde en taal wat sy nooit geuiter het nie was deel van haar daaglikse woordeskat. Soms kon ons net lag en ander kere huil oor die vreemdeling wat in ons ma se liggaam was.


Die vrees was elke keer daar dat sy ons nie gaan ken nie, gelukkig was daar helder oomblikke en partykeer was my sussie ʼn vriendin of sommer ʼn ander enetjie. Die laaste paar keer was haar kyk in haar oë asof sy vir ʼn vreemdeling gekyk het. Vir haar was ons dalk vreemdelinge maar vir ons was sy ons ma.


Maart 2020 is die grendeltyd aangekondig en vir 6 maande kon ons nie my ma sien nie. Ons het gereeld gebel maar dit was kort geselsies en sy kon nie verstaan hoekom kom kuier ons nie, en Covid was nie vir haar ʼn werklikheid nie. Óf sy altyd besef het met wie sy praat weet ek nie, maar ons was darem altyd my my skat en het gehoor dat sy lief was vir ons. My grootste vrees was dat ek haar dalk nie weer kon vashou nie en as sy ons weer sien dat sy nie sou weet dit is ons nie.


September was ons weer toegelaat om haar te besoek, maar dit was vreemde besoeke; maskers, sosiale afstand en beperkte tyd was aan die orde van die dag. Die maskers was vir haar baie vreemd en sy was baie kwaad oor die ding wat sy moes aansit. So nou en dan het die ou mamma uitgekom en kon ons saam lag, maar dit was min. Ons moes vir haar skelm drukkies gee want hoekom mag sy ons dan nou nie druk en soen nie.

9 Des 2020 was die laaste keer wat ek by my ma was, sy was nie baie gelukkig oor die masker nie en dat ek haar nie soen groet nie. Sy het darem onthou sy het ʼn klomp kinders. Haar laaste kyk was so vreemd en haar oë was so deurskynend blou, asof ek ʼn vreemdeling was. Toe ons groet wou sy my soen en toe sê die suster ek mag haar op haar voorkop soen. Dit was my laaste soen en druk. Ek het gestaan en kyk hoe skuifel sy aan die arm van die suster terug na haar saal en my hart het gebreek vir die klein krom lyfie van my ma. Ek onthou ek het die Here gevra om my ma genadig te wees, want dit is nie wat sy wou hê nie.

19 Des 2020 is my ma getoets vir Covid en die uitslae was positief. Sy is die aand opgeneem in die hospitaal. Alles het goed gegaan, maar 22 Desember het sy ʼn terugslag gehad en is oorlede. Presies 3 en ʼn half jaar na my pa se dood.


Kyk ek weet my ma is op ʼn beter plek. Vir so lank het ons, ons voorberei, maar die werklikheid is soveel erger. Die seer was onbeskryflik. Wat dit soveel erger gemaak het, is dat ons kinders die keer nie saam kon rou nie. Elke kind op sy eie met sy eie seer en pyn. Ons kon nog nie groet nie, kon nog nie saam huil en lag oor alles wat gebeur het nie. Mamma se lewe kon ons nog nie vier nie, want die seer is nog te groot. Die groot gat in my wat ek nie weet hoe om dit te vul nie. Ek weet met tyd sal ons afskeid kan neem, maar vir nou is dit net baie seer en ontsettend leeg.


Mamma jy het ons geleer om die lewe ten volle te leef, maar mamma het ons nie geleer om sonder mamma te leef nie.


Ons sal deur alles kom, maar daar sal altyd iets van mamma in ons wees.


Rus sag my liefste moeder,

Tot ons mekaar weer sien.




609 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


Post: Blog2_Post
bottom of page