top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Die Lewe Begin op Vyftig

In my daaglikse besoek aan die internet kom ek op ‘n berig af oor ‘n Fransman wat sê hy kan nie vir ‘n vrou oor 50 lief raak nie. Hy hou van ‘n 25-jarige se mooi lyf. Dan moet ek bysê - hý is 50. Nou kyk … Sal dit nie nou die perfekte wêreld wees as ons op 50 ‘n lyf soos ‘n 25-jarige kan hê nie. Dan sal dit ook seker nie sleg wees as my 50-jarige manlief die mooi, ferm lyf van ‘n 25-jarige jongeling kan hê nie.


Kom ons wees nou eerlik met mekaar, oud word is nou regtig nie lekker nie en nie altyd mooi nie, maar soos hulle sê, “Beauty is in the eye of the beholder”. So word ek toe ook deel van die 50-klub - en het dit my onverhoeds gevang! Ek het regtig gedink hoe ouer mens word , hoe makliker raak dinge. Maar toe nie.


Nee, die lewe het vir my ‘n paar curve balls gegooi en menopause was een van hulle en beslis ‘n eye opener. Liewe hemel, dit het gevoel of ek gestraf word vir iets wat ek gedoen het in my jonger jare. Eers kom die grys hare ... om elke 3 weke te kleur is nie meer genoeg nie. Dit lyk soos ‘n silwer “halo” op my kop. Toe die verandering aan my lyf. Rolletjies is aan die orde van die dag. Skielik het elke moontlike kilojoule ‘n impak op my lyf en moet ek twee keer dink oor daai glas wyn en blokkie sjokolade. Dit wat gestaan het, hang nou. Pyne op plekke wat ek nie geweet het ek het nie. Emosies wat van die een uiterste na die ander wissel. Eers is alles snaaks, net om die volgende oomblik oor presies diesefde situasie in trane uit te bars.


Maar die ergste was beslis die “hotflushes”. Gloede. Elke pil (buiten hormoonpille, want dit wou ek nie drink nie omdat dit is MOS nadelig is vir jou) en wonderkuur word gedrink om dit teen te werk, maar niks help nie ... Waaiers in elke moontlike vertrek, maak nie saak of dit ‘n warm of koue dag is nie - dit is aan. Grimering is ‘n mors van tyd, want jy het skaars jou maskara aan of dit loop in swart strepe oor jou wange. Mense is dus gelukkig as hulle jou met lipstiffie aan sien. ‘n Ewigdurende stryd.


My ma het altyd gesê oud word is nie vir sissies nie - en ek weet nóú wat sy bedoel het. Ek het wel geleer dat die lewe aangaan - of jy nou menopause het, vet of maer is of ‘n kop vol grys hare het. Hoe jy anderkant wil uitkom hang van jouself en jou gesindheid af.


Ek kan vir jou sê menopause is nie ‘n man se maat is nie, maar ek het besluit om die bul by die horings te pak en die ouderdom en alles wat daarmee saam kom, te omhels. Ek het my hormoonpilletjie maar begin drink - alhoewel ek voel dít is hoekom ek voller en sagter is en dat dit glad niks met die wyn en sjokolade te doen het nie ... Ek het my grys hare laat uitgroei en is dít nou bevrydend! Ek hoef nie elke drie weke te kleur nie en spaar ‘n klomp geld. Ek is mal oor my silwer kapsel en ek sien dit is nogals in die mode met menige jongdame wat ‘n arm en ‘n been betaal om hulle hare so te kry.


So ja, omhels daai silwer “halo” van jou, jou voller en sagter lyf ... en die gloede. Geniet die lewe en sien die mooi van elke dag. Lag en huil oor al die lekker en slegte dinge van die lewe. Ja, pas jouself op. Maar as die lus jou beetpak vir ‘n glas wyn of blokkie sjokolade, geniet dit, want vandág is wat saak maak. En as die ouderdom met sy curveballs soos menopause jou pad kruis, verwelkom jy dit met ope arms en lag oopbek vir die lewe.





149 views2 comments

Recent Posts

See All

2 Comments


vanniekerklin
Oct 26, 2020

Oee aarde 50-friend ... nou het jy n ding begin! Ons gaan aanhou neul vir die volgende ... waar was jy al die jare met diè wyshede so eerlik en raak gesê?

Like

viafouc
Oct 26, 2020

Dit is pragtig en so waar, geluk is baaaie meer werd as geld!! Kan nie meer wag om jou volgende storie te lees nie!!

Like
Post: Blog2_Post
bottom of page