Skeef … moffie …
Hoe maklik uiter ons woorde sonder om te besef dat dit ongelooflike seer veroorsaak?
'n Paar jaar gelede het my oudste seun vir my gesê hy is gay. Ja, hy het baie woorde gebruik -pansexual, biseksueel. Maar dit het neergekom op die feit dat hy lief geraak het vir ‘n man.
Ek onthou daardie aand asof dit gister gebeur het.
Die uitdrukking op my kind se gesig … sy weerloosheid … en die vrees vir my en sy boetie se reaksie. “Ek is dieselfde mens as wat ek nog altyd was, Mamma. Ek is nie nou skielik iemand anders nie.” Op daardie oomblik het dit vir my gevoel asof iemand my wind uitslaan. Hoe moet ek dit hanteer? Wat sê jy vir jou kind as hy hierdie groot geheim met jou deel? My gedagtes was ‘n warboel, maar oor een ding het ek nie vir ‘n oomblik getwyfel nie: “Ek is baie lief vir jou. Ek sal okay wees.” Ek kon die dankbaarheid en verligting in sy oë sien. Dit is ál wat hy wou hoor – dat ek, sy ma, steeds lief is vir hom en hom aanvaar net soos hy is.
Twee jaar het verloop en as ek kon, sou ek niks verander het nie. Dit was nie ‘n maklike pad nie. Dit was so seer om te sien hoe my kind vrede moes maak met homself. Ék moes vrede maak met my kind se seksualiteit. En die belangrikste - om my kind se hele menswees te aanvaar sonder ‘n krieseltjie oordeel.
Dae lank het ek gehuil en gewonder wat gaan mense sê, want kom ons wees eerlik met mekaar, mense se idee van gay is dat dit ‘n kéúse is, dis pervers en verfynde mans. Niks het vir my sin gemaak nie. Hier is hierdie groot, briljante kind van my, nie ‘n klein, verfynde mannetjie soos wat mense sou dink nie. Hy was altyd baie betrokke by die kerk, deel van die jeuggroepe, jeugorkes … en hy is gay.
En dan kom die selfkastyding en foltering. Ek as ouer het gefaal. Was ek ‘n té betrokke of dalk onbetrokke ouer? Het ek my kind gefaal as vrou en ma? Was ek so ‘n slegte ma dat hy nie ‘n vrou wou gehad het nie? Dan natuurlik die groot aanklag: volgens die Bybel is dit sonde.
Gelukkig het ek en my kind ‘n baie goeie verhouding en kon ons nog altyd oor alles praat. Ek dink as dit nie daarvoor was nie, sou hy dalk nooit vir ons vertel het hy is gay nie.
Die eerste week wou ek nie met hom praat nie omdat ek nie geweet het wat om vir hom te sê nie. Ek was so bang ek gaan iets sê wat hom kan seermaak en wegdryf. Ek wou nie my kind verloor nie. Maar ek het gesukkel om vrede te kry – nie omdat my kind gay is nie, maar oor die samelewing se persepsie van gays.
Ek het op daardie stadium niemand gehad om mee te praat nie omdat net ek en my kinders hierdie groot geheim gedeel het. Ek wou nie met húlle praat nie, want ‘n ma is daar om haar kinders te help en nie andersom nie. Tog was dit my ander twee kinders se optrede wat die pad na vrede oopgemaak het. My jongste seun en dogter het geen vrae gevra nie. Hulle het nie veroordeel nie. Hulle het hulle ouboet liefgehad soos altyd.
Ek het besef dit gaan nie oor my as ma nie, dit gaan ook nie oor watter valse prentjie die samelewing het nie. Dit gaan oor my kind, sy menswees en sy wese. Sý geluk en sý pad wat hy moet stap.
Met dié besef het dit begin makliker gaan. Ek weet dat ek ‘n goeie ma vir my kind is en die feit dat hy my vertrou is ‘n bewys daarvan. So het ek ook besef dat wat mense dink is húlle probleem. Ja, vandag is my kind die onderwerp van bespreking, maar môre is dit iemand anders.
Ek het elke moontlike artikel gelees oor homoseksualiteit en die Bybel. En ek moet sê, die sewe bybelversies wat ‘n gay persoon reguit hel stuur word oor en oor gebruik. Ek het so baie vir die Here gevra hoe gebeur dit. Ek het lank geworstel met die vraag of ek vir my seun kan sê dit is verkeerd om vir die persoon lief te wees net omdat hy ‘n man is. Ek het begin wonder hoekom ons as Christene die Bybel gebruik om ander se foute uit te wys en nie om God se allesoorheersende liefde te verkondig nie. In my moederhart het ek geweet dat God lief is vir my kind net soos hy is. Dit is ‘n liefde sonder oordeel. As dit nie vir hierdie liefde van God is nie, sou nie een van ons hemel toe kon gaan nie, want een sonde is tog nie groter as ‘n ander nie.
Ek het besef ek het uiteindelik vrede gemaak toe ek vir my man kon vertel ons oudste is gay. Die Bybelse boodskap van liefde het ek weer beleef in my man se reaksie en woorde: “Ek is so dankbaar dat hy vir ons vertel het en nie ‘n valse lewe gelei het nie. Hy is my seun en ek is lief vir hom. Ek aanvaar hom nes hy is.” Elfuur daardie aand het ons my kind gebel sodat hy kan weet sy pa is meer as okay daarmee. Hy moes ook self hoor dat sy pa vir hom lief is. Wat ‘n ongelooflike bevrydende oomblik was dit om nie meer die geheim alleen te dra nie. As dit vir my so goed gevoel het, hoeveel meer vir my kind.
Toe was dit my familie en vriende se beurt en hulle reaksie was net so wonderlik - geen verwerping; net onvoorwaardelike aanvaarding.
Ja, my kind is gay en in verhouding met ‘n wonderlike man wat soos my eie kind is. My verhouding met die Here is sterker as ooit. Sou ek dit anders wou hê as ek kon kies? Néé. Die pad wat ons as familie gestap het, het ons sterker gemaak en nader aanmekaar gebring as ooit.
Ek sê dankie vir die Here vir my ongelooflike, awesome familie en vriende. Ek sê dankie dat die liefde alles kan oorwin.
コメント