Ma-wees, dit is vir my een van die belangrikste dinge wat ek nog ooit in my lewe moes doen en wees. Ek kry sommer so lekker warm gevoel in my hart wanneer ek aan my kids dink. ‘n Kind kom ongelukkig nie met 'n handleiding nie, so jy volg maar jou nuwe mom-senses soos wat jy aangaan. Ek onthou my oudste seun was so agtienmaande toe hy op 'n Sondagoggend net voor kerk besluit het om my hoerrooi spiksplinter nuwe lipstiffie te vat en homself in te kleur. Nodeloos om te sê het ons nie by die kerk uitgekom nie, en het ek en manlief amper geskei, omdat hy nie na die kind gekyk het terwyl ek klaar gemaak het nie. Toemaar, ons het daardie sessie uitgewerk en is nog getroud. Natuurlik is ma-wees nie altyd maanskyn en rose nie. Dit kan soms maar flippen moeilik wees, maar altyd die moeite werd.
Vandag is die eerste Moedersdag sonder my ma en die hartseer hang soos 'n swaar, swart kombers oor my. Die jaar is daar nie 'n pakkie met nuwe pantoffels of nagklere nie, geen vinnige kuiertjie, of 'n oproep om te sê hoe lief ons vir mamma is nie. Daardie tye is ongelukkig verby.
Ek is tans besig met 'n boek, The book of Gutsy Ladies geskryf deur Hillary en Chelsea Clinton. Soos jul van die naam kan aflei gaan die boek oor vrouens wat met baie waagmoed en dapperheid 'n verskil deur die eeue gemaak het op verskeie gebiede.
Die boek het my laat besef dat jy nie geleerd, 'n politikus of beroemd hoef te wees om 'n verskil te maak nie. Ek was, en is omring met ongelooflike brawe en sterk vroue.
Vandag dink ek aan al die ongelooflike vrouens wat deel van my lewe is, of my pad gekruis het.
Die stuk is vir my ma wat van die dag wat ek kan onthou siek was, maar nooit het jy haar gesien sonder grimering, parfuum, of juwele nie. Sy het altyd gesê dat as mens jou hare geblaas het, mascara en lippe aan het, lyk jy al klaar beter. Moet ook nie die parfuum en juwele vergeet nie! Mens kon haar altyd deur 'n ring trek en sou nooit sê dat sy seer gehad het of siek was nie. Ek onthou die laaste paar jaar waar dementia my ma se menswees so verander het, het sy nogsteeds haar oorbelle en hangertjie aangehad. So, my liefste mamma, my juwele en parfuum sal altyd 'n spesiale betekenis vir my hê, want dit was so integrale deel van my ma en lewe as haar dogter.
Nog 'n Gutsy lady in my lewe was my oorlede skoonma. In 1974, net voor die burgeroorlog in Angola uitgebreek het; het sy, skoonpa, en hul drie klein seuntjies met net hul besittings wat hul in hul karretjie kon kry gevlug na Suid-Afrika. Hier moes hul van voor af begin. Vreemde land, taal, en kultuur. Ek onthou haar Afrikaanse woordeskat was baie beperk, maar die hoofdoel was om haar huisie blinkskoon te hê en te sorg dat daar altyd die lekkerste Portugese kos en eetgoed was. Haar groentetuin was haar trots, maar haar liefde en toegewydheid vir haar seuns en man was altyd eerste prioriteit. Sy was 'n klein Portugese tannie , amper soos daai Italiaanse tannie van die Fattis en Monis advertensie- sy was net nie so lekker mollig nie. Haar grootste bekommernis was dat ek te maer was, en dat ek moes eet. Haar beste Afrikaanse sin was “ Daleen, eet, vet”. Nou ja, dis waar alles begin het, daar by my oorle skoonma se obsessie om my vet te kry. Hoe mis ek nie haar Portugese geregte en gebak nie. Voorwaar 'n vrou wat diep spore in my, my kinders, en beslis my man se lewe getrap het. Spore wat ek nooit in sal kan stap nie.
My suster en beste vriendin. Vandag huil ek vir jou, want dit is ook jou eerste Moedersdag sonder mamma, maar ook sonder jou kinders. Waar hulle in die uithoeke van die wêreld sit, weet ek dat dit vir hulle net so moeilik soos vir jou is. Om nie daar te wees om jou kleinkinders te sien grootword nie. Jy is wel nou 'n baie ‘withit’ tegnologiese hip ouma wat video calls en facetime ken, maar dit is nie dieselfde nie. Ek haal my hoed af vir elke gutsy mamma en ouma wie se kinders en kleinkinders oorsee is. Wat hul nie kan vashou of druk nie. Waar jul moed inpraat en sterkstaan, maar intussen is julle harte ook in stukke.
Vir my ongelooflike skoonsusters. Twee van hulle het saam my broers oorsee gegaan om vir hulle mans en kinders geleenthede gegee wat hul nie hier by ons kon kry nie. Wat deur elke moeilike tyd vir julle mans en kids daar was.
My Portugese skoonsus, jy is 'n vrou van formaat en ek haal my hoed vir jou af, want jy laat niks en niemand toe om jou onder te kry nie. Jy wat altyd daar was vir skoonma en so mooi na haar gekyk het. Jy self wat as kind saam jou ouers gevlug het uit Angola. Jy is voorwaar soos die vrou wat hul in Spreuke beskryf: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref almal.” Jy wat my tolk was as ek nie lekker verstaan het as die skoonfamilie iets gesê het nie. Wat my al die skindernuus vertel het. Jy is soos hul sê, my sister from another mother.
Vir elke vrou wat 'n man of kind aan die dood moes afstaan en moet aangaan en die sterk een moet wees vir jou kinders en familie. Vir die vrou wat jou stryd teen kanker, depressie, of 'n siekte elke dag van vooraf moet aanpak. Die vrou wat deur 'n egskeiding is, of jou man ontrou was aan jou en jy weer in jouself moet glo dat jy goed genoeg is of hom weer moet vertrou. Elke vrou wat uit 'n verhouding kom waar jy emosioneel en fisies mishandel is. Al die enkelmammas wat al die balle in die lug probeer hou. Vir elke vrou wat te bang is om openlik lief te hê, want hul liefde is nie aanvaarbaar vir die samelewing nie. Vrouens wat vir hul plek in die die samelewing en werksplek moet baklei.
Jy is nie net nog 'n vrou nie, jy is 'n sterk vrou wat deur soveel seer en teleurstelling moes werk . Jy maak 'n ongelooflike groot verskil in talle mense se lewens al is dit net deur hoe jy dit wat in jou lewe gebeur het, hanteer en om te staan vir dit waarin jy glo.
In my oë is julle almal ‘n Gutsy Lady en salueer ek elkeen van julle!
She was fierce. She was simple. She was crazy and always had something to say. She had flaws, but when she was down she got right back up. She was a beast in her own way but one word described her best… Strong!
Comments