All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I've been
And how I got to where I am
But these stories don't mean anything
When you've got no one to tell them to
It's true... I was made for you
Ek is mal oor die liedjie, want dit laat my altyd dink aan die mense in my lewe. My familie, vriende, kennisse, asook die persoon in die straat wie se oog jy vang en dan dié se emosie daarin lees; maar dit is ook my huil liedjie, want dit laat my aan die verganklikheid van die lewe dink.
Nou vandag- of eintlik is die laaste maand al my huil-maand. Nou 2020 het nogal nie goed afgesluit nie, nie dat 2020 die beste jaar ooit was nie. 2020 het my wel meer bewus gemaak van mense se pyn, vrees, vreugdes en hartseer. Soveel vreugdes as wat daar was, was daar vir my soveel meer pyn en vrees. Met die lockdown en Covid het ek gedink, sjoe mense het uiteindelik besef waaroor gaan die lewe. Ons kan met minder klaarkom, meer tyd vir mekaar hê en minder worry oor wat in ander mense se lewens aangaan. Dat tyd ongelooflik kosbaar is en ons van elke oomblik die beste moet maak.
So het Covid met sy lang seer vingers aan ons eie deure ook kom klop. Skielik is dit nie meer ver nie, maar by ons; my ma, my kind, my vriende. Vrees wat aan ons harte gryp, want ons weet nie hoe gaan ons geliefdes se liggame Covid hanteer nie. Vandag huil ek vir my vriendin en haar gesin wat ʼn man, pa en oupa verloor het, ek huil oor hulle groot verlies wat nie meer saam met hulle vanaand in die huis is nie.. Oor ʼn vriend wat nie meer daar is nie. Dat daar ʼn kleinkind is wat sy oupa nooit gaan ken nie. Vir die gat wat dit veroorsaak het in hul lewens, want manlief of pappa is nie meer daar om dit te vul nie. Ek huil omdat Covid gemaak het dat ons geliefdes alleen moet sterf en ons nie kon groet nie.
Ek huil vir elke persoon se pakkie seer en pyn wat hy moet saamdra. Dis so maklik om te dink dat my pyn die ergste is, maar pyn en hartseer word niemand gespaar nie.
Ek huil omdat ons mense is wat so selfgesentreerd is en nie ʼn ander se seer kan sien of begryp nie. Vir menslikheid wat by die agterdeur uit is, want die Eie Ek is belangriker. Onkunde oor die pandemie en mense wat nogsteeds glo dat dit net ʼn foefie is. Ek huil vir ons mense se selfsug en magsbeheptheid -wat nie die son oor die volgende persoon se kop gun nie.
My grootste hartseer is vir my ma, want sy moes ook haar laaste stryd alleen aanpak en ek weet nou hoe voel soveel mense wat die seer pad alleen moes stap.
Dankie vir elke gesondheidswerker wat sy/haar lewe op die spel plaas om ons geliefdes se laaste oomblikke so maklik as moontlik te maak en probeer instaan vir die familie.
Ja, die week was ʼn tjankerige week, want weereens het ek besef die lewe is kort en baie kosbaar. Sê die mooi dinge vir mekaar en los die seer woorde, want ongelukkig is dit wat mens onthou.
Covid het gemaak dat ons besef hoe ongelooflik weerloos ons is en dat ons nie in beheer is nie, maar slegs die Here. Hy het ons tyd bepaal en terwyl ons daardie tyd het moet ons dit reg gebruik.
Gelukkig weet ek die son sal weer skyn en die pyn minder word, en ons weer leer om saam deur die seer te leef. Dat daar mooi herinneringe is waaraan ons kan vasklou, want niemand kan dit van ons af wegneem nie.
Dankie vir die mense in ons lewens wat help om die seer oomblikke draagbaar te maak en deel van ons groter stories word.
You see the smile that's on my mouth
It's hiding the words that don't come out
And all of my friends who think that I'm blessed
They don't know my head is a mess
No, they don't know who I really am
And they don't know what I've been through like you do
And I was made for you...
The Story – Brandi Carlile
Commentaires