'n Ma is so gelukkig soos haar ongelukkigste kind.
Ek is ‘n trotse ma van drie ongelooflike kinders. Twee seuns en ‘n dogter. My dogter is die middelse kind. Al drie is klaar gestudeer en hard besig om aan hulle loopbane te werk.
Ek het altyd gedink ek is ‘n oopkop moeder en het ook my kinders so probeer grootmaak. Wel, kom ek sê nou vir julle, my kinders het my geleer wat dit werklik is om oopkop te wees. Ek het super liberale kinders wat menige mens kort-kort “up in arms” het met hulle opinies. Hulle kyk ook hoe ver hulle die grense van my gemaksone kan skuif - veral my seuns.
Vir my twee oudste kinders is 2018 die jaar van liefde in ons huis. Dié liefde kom toe in die gedaante van ‘n lang, donker Indiër oor my dogter se pad. Ja, ‘n verhouding oor die kleurgrens en ‘n kultuurverskil het my hart tot in my skoene laat sak. Nie dat ek nou eintlik vir my kind kan sê sy mag nie - sy is 25 jaar oud. En 30 jaar terug was ék die een wat nie met ‘n boerseun wou trou nie en het ‘n Portugees gekies as die liefde van my lewe.
Met ons eerste ontmoeting moes ek nogals sluk aan my vooroordele, toe ek sien hoe hy my dogter se voete onder haar uitgeslaan het en met hoeveel liefde en respek hy my kind behandel. Alles maak toe vir my sin. Sy het hierdie waas van geluk om haar gehad. Al wat sy van ons wou hê is dat ons hierdie man in haar lewe moet aanvaar. Hoe kan ek as ma haar hierdie groot geluk weier? Wie is ek om te sê dit is nie die regte persoon vir haar nie net omdat hulle verhouding nie die norm van die samelewing is nie?
Skaars ‘n maand daarna was dit my oudste se beurt. Kyk, toe is ek reg vir enige iets. Maar weereens gooi die lewe my ‘n curve ball. My oudste is gay/bisexual/pan sexual. Hy het ‘n man ontmoet vir wie hy baie omgee. Die oomblik toe hy dit vir my sê, is hy weer my vyfjarige blondekop krullebol wat wil weet of ek lief is vir hom net soos hy is. My hart het gebreek vir my kind. Hoe moeilik moes dit vir hom gewees het om vrede te maak met sy seksualiteit en my genoeg te vertrou om dit met my te deel? Hy het vir my gevra om hom ten volle te aanvaar met alles wat saam met hom en sy verhouding kom.
Nou ja, so het my kinders se liefdeslewe my in ‘n warboel van emosies gedompel. Vir my is my kinders se geluk alles. Mý prentjie en droom vir hulle was nie húlle prentjie en drome nie. Ek lees dat as jou kind uit die kas klim , klim jý ín die kas om te huil. Ja, ek het gehuil - vir weke. Alleen, waar niemand my kon sien nie, Nou klink dit baie snaaks, maar my gunsteling huilplek was die toilet. In hierdie klein ruimte kon ek alleen deur my vrese werk. Ek het gehuil oor wat die mense gaan sê van my kinders, hoe hulle behandel gaan word en hoe mense hulle gaan oordeel.
En so ontmoet ek my oudste se liefde. En skielik het alles so reg gevoel. Die man wat my kind, my seun, gelukkig maak, hom heelmaak, het dadelik my hart gesteel.
Ek het tot die besef gekom dat vir wie ons lief is niks aan ons menswees verander nie. Wat mense of die samelewing van jou dink, is nie jou probleem nie - dit is hulle probleem. Dit het ook nie oor my as ma gegaan nie, maar oor my kinders en hulle geluk. My liefde vir hulle sien kans vir alles.
Vandag sit ek met my eie ‘Modern family’ en is dit vir my wonderlik om te sien hoe ons by mekaar aangepas het. Hoe ons mekaar aanvul met ons unieke persoonlikhede, kultuur, vreemde humorsin en begrip vir mekaar. Met my onsekere Engels en hulle gebrekkige Afrikaans kuier ons ‘n hond uit ‘n bos uit. Ons onvoorwaardelike liefde vir mekaar maak van ons gesin ‘n veilige hawe met geen vooroordele nie. En met ‘n skalkse glimglag dink ek in my stilligheid: “So wat kry jy as jy ‘n Boer, Portugees, Indiër en ‘n Jood in een vertrek kry … ’n moewiese familiefees!”
Ek het nou gelag en gehuil en elke stukkie so geniet. Jou lewe klink so perfek Daleen. Who cares wat mense dink....... Ek het ongelooflik baie respek vir elkeen van daardie kosbare kinders van jou. 🥂