top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Ons is ook maar gekompliseerde stofsuiers

Updated: Dec 11, 2023

Dit is vandag 472 dae, 12 ure en 27 minute wat ons in lockdown is. Nie dat ek kla om by die huis te wees nie. Ek love elke oomblik van niks doen, maar toe slaan die skoonmaakgogga my.


Met die besluit ek dis nou tyd om ordentlik skoon te maak. Klere in die wasmasjien, skottelgoed gewas , beddens oorgetrek, en alles afgestof. Nou is dit tyd om te stofsuig. Drie maande terug het manlief vir my 'n nuwe stofsuier gekoop want myne het die gees gegee. Ek was nogal heel in my skik, want dis nogals 'n cool ding, hy het filters wat skrik vir niks. Wens ek het soveel filters voor my mond gehad voordat ek gepraat het, my woordeskat sou soveel mooier gewees het. Wel, ek het self daardie stofsuier met sy hope filters aanmekaar gesit.


Vanoggend was 'n hele ander storie, ek kon nie kop of stert uitmaak van die ding voor my nie. Dit was asof daar een of ander voorwerp uit 'n sci-fi movie voor my staan. Soveel parte in een masjien het my verstand te bowe gegaan. My eerste opsie was om manlief te bel en te vra hoe pas al die goed in die bleddie ding, net om te onthou ek toe hy so twee weke terug vir my gevra waar kom die filter in toe hy die kar wou stofsuig, ek baie sarkasties vir hom gevra of hy nie in 'n tegniese skool was nie en baie windgat vir hom gewys hoe werk alles. In my gedagtes kan ek hom hoor sê, ja mens kan sien jy was nie in 'n fokken tegniese skool nie. Met dié in gedagte, besluit ek om alles maar self uit te figure. Gelukkig kon ek alles ingedruk en gedraai en vasgeknyp kry en gelukkig daar pas al die filters in die houer.


Nou soek ek die draad en die plug. Dit is mos nie 'n cordless stofsuier nie, wens dit was. Al om die masjien soek ek die knoppie wat jy druk dan maak dit so grrrts geluid en voila opgerol is die tou. Ek kyk selfs onder, so asof iemand die bleddie ding onder die stofsuier sal sit. Ag genade, met alles terug waar dit moet wees sien ek die res van die verdomde stofsuier met die draad om hom gedraai, en geen grrrts knoppie! Uiteindelik is alles op en aan en my huis is nou volledig gestofsuig. Na my helse gesukkel om die stofsuier aanmekaar te kry en te laat werk, besef ek dat hoe meer jy goed doen, hoe beter raak mens daarmee.

Dit het nogal op vreeslik baie dinge in ons lewens betrekking- veral op ons intieme lewe.


Nou kyk as jy oor vyftig is dan raak mens se intieme lewe so complicated soos my stofsuier. Dié is maar 'n sensitiewe ou sakie vir menige mense, maar as ek so na die vroulike spesie luister is dit beslis ietsie wat baie van ons in gemeen het. Hierdie is nie 'n kwessie van druk die knoppie en siedaar ure se passie nie. Neeeeee nou vat dit ure om 'n paar minute se passie te kry. Van Victoria Secret pakkies na dienlike onderklere wat gemaklik sit en alles op en in sy plek hou. Die prentjie wat die media voorhou van een intense kyk en 'n passievolle gestoei breek uit is beslis nie meer by ons van toepassing nie, as dit ooit was bygesê. Dit is klere en knope wat waai, ek moet sê elke keer as 'n vrou 'n man se hemp so oopruk dat jy knope sien spat dan dink ek, flip dit lyk lekker, maar dan skop die realiteit in. As alles verby is gaan dit ek wees wat eers my bril moet opsit om die bleddie knope te soek en die verdomde hemp moet heelmaak. Genade nee, klere is te duur en ek weet nie so lekker of ons daai knopies so maklik afgeruk gaan kry nie.


Dan gebeur dit ook op allerhande ontmoontlike plekke. Netnou neuk ons van die rak af en dan breek een‘n heup of been.Kan jy jou indink as ons by die hospitaal kom en die dokter vra wat het gebeur. “ Jy sien dokter ek en manlief het probeer om ons sekslewe op te kikker.” . So sorry daai passievolle ekskursie gaan nie gebeur nie. Nie dat daarmee iets fout is nie-wees net versigtig.


Maar om terug te kom, ons is ongelukkig nie soos die girl in Fifty Shades of Grey nie, al sou ons mans dit gelove het, maar as jy so vroutjie soek, dit gebeur nie binne 'n paar minute nie. Soos wat dit moeite vat om daai stofsuier aan mekaar te sit, is dit met ons vroulike geslag ook so. Jammer manne ons is 'n ingewikkelde spesie en dit raak nie makliker hoe ouer ons word nie. Dit gaan meer as 'n klappie op die boud of 'n skelm knipoog vat om vroulief in die bui te kry. Ons is emosionele wesens en daai klappie kan dalk die humeur laat ontplof in plaas van die hormone aan die gang kry. Manlief, jy moet die regte goed op die regte tyd doen, want niks gebeur net tjoef tjaf nie, alles vat tyd. Maar, soos alles in die lewe kom dinge van twee kante af, aan die intieme sakie sal daar baie aandag gegee moet word.


So ja, my huis is skoon en my stofsuier is mooi uitmekaar gehaal en elke liewe filter is gewas en reg vir die volgende sessie. Gebruik maar jou stofsuier gereeld, net nou vergeet jy hoe dinge werk….



156 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page