Voor ek die blog begin wil ek julle net waarsku, die stuk is nie vir sensitiewe lesers nie, as jy nie hou van kru of vuil taal, kraswoorde, vloekwoorde, of wat okal mens dit noem nie. Stop nou dadelik, moenie verder lees nie. Dit gaan nie vir jou werk nie, jy gaan diep ontsteld wees en my na die tyd op elke moontlike sosiale platform blok, my van jou friends-list delete, en my as mens wil vir vermy. So lees verder jou boek of gaan koop die Huigenoot asseblief, moet nie verder lees nie.
Ek het groot geword in'n huis waar my ouers glad nie gevloek of lelik gepraat het nie. As ons dalk 'n kragwoordjie laat glip het, is daar dadelik peper in jou mond gegooi of jy is gedreig met “dat jou mond met seep uitgewas” sou word. So asof dit nou jou gedagtes ook sou skoonkry. Toe ons groter geword het, en ek praat nou van volwassenes en ons “flip” en “freakin” gebruik het, is daar vir jou groot oë getrek en daar is baie vinnig vir ons gesê dat dit netsowel die vloek woord kon wees, so ons mag dit nie gesê het nie. So vloek was nie deel van my woordeskat gewees nie, of altans MAG nie deel van my woordeskat gewees het nie.
Toe ek nou my eie kinders gehad het, het ek ook nie lelik voor hul gepraat nie en dink die ergste was dalk moer of bliksem en dan het hul geweet moeder is nou verby kwaad. Ek het nie lelik gepraat nie, want hul sê mense wat vloek het 'n beperkte woordeskat en ons wil nou regtig nie so geklassifiseer word nie. Ons het so mooi taal en daar is niks mooier as 'n persoon wat suiwer Afrikaans praat nie. Ek praat Afrikaans omdat ek baie trots is op my taal, maar ook omdat my Engels glad nie goed is nie, maar dit is 'n storie vir 'n ander dag.
Ek is deel van 'n stapgroep en vanoggend was ons 10km stappie. Dit was net ek en twee van my vriendinne. Nou ons roete is in residensiële areas so mense mag nie soos mal hase daar ry nie en dit is nie ʼn besige pad nie so daar is baie plek. Wanneer 'n kar van vooraf kom gee ons pad vir die motors, maar wat so weird is, is dat dit vrouens is wat met hul groot luukse Duitse motors, en natuurlik selfoon in die hand, ons flippen plat wil ry. Nee, ons freakin plat wil ry. Die mans aan die ander kant ry mooi om ons, ek dink hul is bang ons beskadig hul karre. Die vrouens kyk hoe naby hul aan jou verby kan ry, weet nie of hul nie hou van dames wat bietjie probeer oefen nie. Nie dat ons drie sexy poppe is nie, maar ons is beslis ook glad nie te onaardig nie. Om terug te kom na my storie, toe dit nou die hoeveelste keer gebeur dat 'n dame met haar moerse kar ons amper plat ry kom die woordjie FOK oor my lippe toe ek weereens uit die pad moes duik, nodeloos om te sê na die stap moes ek groot om verskoning vra vir die dames oor my taalgebruik, want die woordjie is toe 'n paar keer rond gegooi.
Ek wil julle net eers vertel hoe dit gekom het dat die ou woordjie deel van my woordeskat geword het aangesien ek nie so groot geword het nie en my pa in sy graf sal omdraai as hy my vandag moet hoor.
So elf jaar gelede het ek ons skool se revue gedoen, my eerste revue, want my oudste het besluit dat moeder so bietjie buite haar gemaksdosie moet dink. Dit was ons skool se 50ste bestaansjaar en 'n groot gedoente. Die stresvlakke was hoog, want ek is so bietjie van 'n controlfreak en perfeksionis. Ek het seker 10kg in die tyd verloor waaroor ek natuurlik baie gelukkig was en watter vrou sou nou nie dit gelike het nie. Na maande se harde oefening is dit ons kleedrepetisie. My goeie hel, daar sal mos die groepie op die verhoog stap waarvan die groepleier natuurlik manlik was en my duisend keer gesê het, hy het nie my hulp nodig nie en dat hy baie capable was. Nou ja, toe daai kindertjies op daai verhoog stap toe gebeur daar NIKS! Dit is kleedrepetisie, ons eerste optrede is die volgende dag. Die emosies wat deur my gespoel het; was woeste teleurstelling, skok, woede,en al wat oor my lippe kom is, “FOK hier gaan dan FOKOL aan”. Die arme jong onderwysertjie langs my kry amper 'n hartaanval want hy het my nog nooit so hoor praat nie, ek vlieg om om te kyk wie praat so vieslik toe ek besef dit is eintlik ek. Ek het my flou geskrik oor die woorde.
Ek het die hele aand opgegooi of dit nou van skok oor my woordeskat was of stres oor die revue weet ek nie. Ek dink ek het daai aand nog 10kg verloor. Dit is wel hoe die woordjie deel van my woordeskat geword het.
Nou hierdie is nou die deel waar jy regtig moet ophou lees. As daar nou een woord is wat mens in elke moontlik situasie en naamsoort kan gebruik is dit FOK. Ek wil net 'n paar noem. Eerstens as mens nou met 'n gesonde verstand geseënd is en jy gebruik dit nie. Wat soveel mense vandag doen, want blykbaar het Covid 'n aandeel daarin, dan noem mens die persoon 'n fokken dom persoon of 'n dom fok. Nie idioot nie, want my pa het gesê mens noem nie iemand 'n idioot nie dit is 'n belediging. Die volgende situasie is as jy in die klas instap en die kinders het niks gedoen nie, nou niks beteken nie noodwendig boggerôl nie, daar kan dalk so ietsie wees, maar as 'n kind wat fokkol gedoen het, dan het hul minder as niks gedoen. Dit is ook dan wanneer jy befok is.
Nou daar is die mooiste woorde soos asemrowend, fenomenaal, pragtig, woedend, briesend, hartseer noem dit maar, daar is net een woord wat die ultimate emosie kan beskryf. Soos ek is gefok, dit is befok mooi, ek is fokken kwaad. En, dit was 'n befokte aand. Dan die laaste as jy vir die 1000ste keer vir iemand iets verduidelik en die persoon doen dit nog steeds verkeerd. Wat de fok doen jy? Of, wat fokken verstaan jy nie?
Ai, ek weet dit is nie mooi nie, ons het 'n vriendin wat haar bes probeer om ons op die regte pad te hou en te help om ons taal mooi suiwer te hou. Ons vriendegroepie het ook nou 'n ongeskrewe reël dat jy net drie foks 'n dag mag gebruik en as dit nou 'n baie goeie vriendin is mag jy van hare leen. Ongelukkig het niemand van ons net na agt die oggend nie meer enige fokke of foks hoe jy dit okal noem oor om vir iemand te leen nie. Maar, dit is die gedagte wat tel.
SO, as jy nou aan skok ly oor die stukkie is ek jammer, maar jy was gewaarsku. Die woordjie gaan wel deel van my woordeskat bly nie omdat ek nie 'n groot woordeskat het nie, maar meer omdat my emosies oorloop en fok dit die beste beskryf.
En nou is my foks van die dag op en ek is in die skuld by 'n paar vriendinne.
Comments