Op ‘n onlangse wegbreek Hermanus toe het ons soos regte binnelanders strand toe gegaan om te gaan swem. Ek was darem nie so braaf soos my man en seun om te gaan swem nie. Terwyl hul die ysige water aangedurf het , het ek op die pragtige spierwit strand gaan stap.
Ja soos menige ander strandloper kyk ek ook vir skulpies toe ek op die mooste spoelklippe afgekom het. Ek het my verkyk aan al die verskillende vorms en hoe die golwe hul op die strand rol en uitspoel. Dit het my laat dink aan ‘n vakansie jare gelede aan die Natalse se Suidkus. Ek het heerlik in die see baljaar en my soos ‘n wafferse en gesoute swemmer gedra en die golwe gery maar die fout gemaak om my rug te draai op die see en met die slaan ‘n golf my onderste bo. Ek is soos ‘n bondel wasgoed in die rondte getol , gesleep en geskud. Ek het nie geweet waar bo of onder is nie . Nes ek dink ek is terug op my voete dan word ek weer gerol. Snakkend na my asem het ek begin wonder of ek lewendig uit die sessie gaan uitkom, toe die see my soos ‘n vrotvel op die strand uit spoeg. Met my selfbeeld aan flarde, dit wat in my swembroek moet wees buite en dit wat nie daar moet wees nie binne in my broek. Na ‘n gesukkel om myself weer respektabel te kry en die hope sand uit my swembroek te kry strompel ek kop onderste bo en met nerfaf kniee terug na my handoek.
Dit het my laat besef dat ons lewens net soos hierdie mooi spoelklippe in my hand is. Van al die gerol, geskuur oor rotse en sand vorm hierdie klippies tot hul mooi en blink is en reg om die strand te versier.
Elkeen perfek net soos hy is, nie een klippie is dieselfde. So is ons ook. Soms ry ons die hoogste golf van sukses net om die volgende oomblik onderste bo geslaan te word deur ‘n krisis. Elkeen van ons is al soveel kere deur die lewe gerol, onderste bo geklap en gesleep oor baie skerp rotse . Dat ons snak na ons asem en wonder , hoe ons deur die krisis gaan kom.
Ons verstaan nie altyd hoekom en waarom dit gebeur nie . Word kwaad want hoekom moet ons deur die seer gaan. Die lewe is nie regverdig nie en voel dit asof dit net ons is wat so seer kry maar tog loop elkeen van ons ‘n seer paadjie. Almal se skerp puntjies word gerol en geskuur tot die Here dink dat daai puntjie nou glad genoeg is.
Ons seer gaan nie ophou nie want ongelukkig is niemand gevrywaar van teleurstelling , pyn en hartseer nie.
Soos ek hierdie spoelklippe in die palms van my hand vashou besef ek deur alles wat in ons lewe gebeur het en hoe erg dit was en ons nie altyd die lig op daardie oomblik gesien het nie. So het die Here ons in sy hande toe gevou en ons deur daardie donker tyd gehelp. Dat Hy met elke rol, sleep en seerkry en met al die vreugdes en pret ons vasgehou het. Nooit laat hy ons alleen nie maar vou ons toe met Sy liefde.
Die lewe spoeg ons op plekke uit en voel ons dit is nie daar waar ons wil wees nie maar elkeen van ons is perfek op die plek waar ons die lewe moet mooi maak.
Comments