Wat is dit van 'n Sondag wat maak dat mens so melancholiese gevoel kry. Ek weet nie of dit iets met die ouderdom te doen het nie, maar dit is vir my deesdae erger as ooit. Vandag is weer een van daai Sondae wat ek sommer in my kar wil klim en net ver ry. Ek weet nie waarnatoe of na wie toe nie, maar ek wil net nie by my huis wees nie.
Dit laat my verlang na my grootwordjare. Ons is vier kinders, twee seuns en twee dogters, en ons was so bevoorreg om op 'n plot groot te word.'n Tipiese Sondag by ons was; kerk, my ma se groot Sondagmiddagete en na ete moes ons vier kinders skottelgoed was. Dit het natuurlik glad nie sonder enige stryery verloop nie. Nou Sondagmiddae het my ouers 'n middagslapie gevat. Natuurlik is ons met 'n pakslae gedreig as ons sou waag om te raas. Met 'n plot so groot soos die Heer se genade, was ons favourite speelplek natuurlik die bedding reg onder my ouers se slaapkamervenster. Die beste plek om met ons karretjies te speel. Ons was en is nog steeds glad nie die stil en stemmige klomp kinders nie en vinnig het die gespelery in een onaardse gegil en lag ontaard wat nie goed vir ons viertjies geëindig het nie. Die badkamer was ons eindbestemming en die rustige Sondag in sy maai. Natuurlik was ons broers altyd skuldig want ons sussies was dan mos verskriklik baie gehoorsaam.
Ek verlang na die kere wat ek en my sussie in die aande op ons rug op die gras gelê het en na die sterre gekyk het en uit volle bors allerhande lawwe liedjies gesing het. Prentjies in die hemelruim gesien het en gedroom het oor wat ons eendag gaan word as ons groot is. Die veiligheid van die warm kombuis as my pa sy gereelde cowbow chow gemaak het van die Sondagmaal se oorskiet. Sondae het soos 'n lang vakansie gevoel voordat die skool weer begin het.
So is die onvoorsiene ou skoolopdraggie ook skielik in die tas ontdek. My pa moes menige opstelle skryf om ons klomp uit die moeilikheid te hou. Gelukkig was hy ʼn man met ʼn algemene kennis wat skrik vir niks nie en het 'n gawe gehad om te skryf. Geduldig het my pa ons gehelp maar sy woorde was, “wag tot jy eendag kinders het”. Dan het ek gedink nooit sal ek dit toelaat nie. Nodeloos om te sê, dit was presies wat gebeur het.
Met tyd het die warm Sondag gevoel begin verander met my broer en suster wat universiteit toe is. Sondamiddag het nou 'n dag van afskeid geword wanneer my broer en suster laat terug Potchefstroom toe gery het, hul kar vol bakkies kos en bederfies van my ma af. Sondae-groet was nog nooit lekker gewees nie.
Jare later het ek my pa se woorde onthou wat hy so gereeld geuiter het as ons hul Sondagmiddag ontstig het. Eers toe ek 'n ouer self geword het, het ek besef hoekom my pa so moedeloos was as ons op 'n Sondagmiddag half ses onthou het van die projek wat jy twee weke terug al gekry het. Dit was vir my as ouer amazing dat 'n kind se geheue eers vanaf vyfuur op 'n Sondag inskop. Menige tuisgemaakte musiekinstrumente is met en moewiese spoed gemaak. Take oor sonsverduistering of natuurrampe is gedoen. Dan praat ek nie eers van die vele opstelle en praatjies wat in die laat ure van 'n Sondagaand uitgedink is nie.
Nou besef ek ons was altyd so besig dat ons die Sunday blues geskip het, maar nes jy dink jy is so gelukkig dan sluip die vreemde hartseer op jou af. Dan tref die verlange jou na iemand wat jy nie ken nie.
Hoekom is die verlange op Sondae soveel meer intens. Ek luister so rukkie gelede na 'n gesprek waar die radio aanbieder sê dat Sondae in Amerika as die mees depressiewe dag van die week aangewys is. Natuurlik weet ons Suid-Afrikaners hoe om die blues tee te werk, maar ongelukkig kom daardie stil oomblikke en dit is wanneer die alleenheid jou tref en die vreemde gemis oor jou neersak.
Vandag is dit is nie 'n verlange na iemand wat jy nie ken nie, dit is die besef dat ek na my eie mense wat nie meer met ons is nie of nie meer naby ons is nie verlang. Die verlange na my ouers en kinders is op sy felste. Die feit dat ek nie meer die foon kan optel en my pa se bekende “halo my kind, ons verlang na julle’ kan hoor nie en my ma se “hallo my liefie, nou net aan jou gedink” breek my hart.
Om my kinders nie meer almal saam onder een dak te hê nie. Om hul warm toe te vou en te weet hul is okay. Die verlange na my familie wat versprei is van die een punt van die wêreld tot aan die anderkant . Ja gelukkig kan mens bel, maar mens moet kophou soos 'n dronk weeluis met al die tydsone heen. As jy dink om die een te bel in Amerika dan is hy nog in gister en die een in Australië is al in môre. Ja ek dink die blues is op sy ergste op 'n Sondag omdat dit 'n familiedag is waar daar soveel memories gemaak is en tog so vinnig verby is.
Dit laat my aan die woorde van ABBA se “Slipping through my fingers” dink
What happened to the wonderful adventures The places I had planned for us to go? Well, some of that we did, but most we didn't And why, I just don't know
Slipping through my fingers all the time I try to capture every minute The feeling in it Slipping through my fingers all the time
Sunday Blues sal altyd deel van ons bly . Koester die tyd wat jy het en maak genoeg mooi herinneringe bymekaar maak om die leë seer tye te vul.
Comments