Januarie met al sy 365 dae is al amper iets van die verlede en ek wonder nog steeds wat het van 2022 geword. Dit voel vir my asof ons nog by Januarie 2022 moet wees. Waarheen het die tyd gevlieg? Ai, ek klink nou soos my ma. Die tyd het of stil gestaan of gevlieg, dan het my pa altyd gesê, “'n Uur is nog steeds 60 minute en'n minuut nog steeds 60 sekondes”. Wel 2022 het verby gevlieg en ons staan aan die begin van'n nuwe jaar.
Ek kan nog nie my gevoelens oor die jaar lekker plaas nie, ek weet net dat dié jaar het ek besef hoe ongelooflik aanpasbaar ons Suid-Afrikaners is.
Daar het soveel goed gebeur in die jaar en jy moet maar aanpas by jou nuwe omstandighede. Covid was nog deel van ons lewe in 2022, asook maskers. Ek moet sê soveel as wat ek dit baie ongemaklik gevind het was ek ook mal oor die maskers, want ek kon so bietjie wegkruip agter dit. Menigmaal het ek iemand met glimlaggende oë in sy peetjie ingestuur. Ek is ook een van daai persone wat van my eie geselskap hou en heerlik met myself gesels het agter die masker. Groot was ons opgewondenheid toe ons hoor dat die Covid regulasies opgehef word. Geen maskers! O genade, dit was nie altyd so goeie ding om sonder 'n masker te loop nie. Soveel kere het ek gesien hoe vreemd mense my aanstaar net om te besef dat ek heerlik met myself gesels. Julle weet mos, niks is so lekker soos 'n intelligente gesprekkie nie. Ek kon ook nie meer my gunsteling kragwoordjie laat glip nie, want die persoon voor my kon duidelik op my lippe lees wat raak ek kwyt. Dit het 'n rukkie geneem, maar ek het nou weer beheer oor my gesig en beslis ook oor my mond.
Hulle kan ons regering van baie dinge beskuldig maar hulle het nou maar eenkeer die vermoë om ons te dwing om uit ons gemaksdosies te klim en die onmoontlike reg te kry. Hulle is ook briljant daarin om ons stadig maar seker voor te berei om tevrede te wees met die eenvoudige goed in die lewe.
Ja, LOADSHEDDING het ons vinnig geleer om te cope met ure sonder krag, of as jy so gelukkig is om ten duurste generators, inverters of natuurlik die “top of the range”, sonpanele aan te skaf, sodat jy van die grid kan afklim. Dit het ook veroorsaak dat daar 'n nuwe elite groep in die dorp is, jammer mnr. met jou moewiese groot generator wat self oorskakel as die krag afgaan. Die “ingroepie” is die mense met sonpanele, want hulle is net soveel groener as jy.
So almal wat dink jul is in met jul duur ontwerpers uitrustings, juwele, en motors; staan opsy – die nuutste status simbool in Suid-Afrika is sonpanele. Ek is maar net te dankbaar vir ons klein generatortjie waarmee ek nie eers my hare kan blaas nie, ten minste het ons krag, al is dit nou nie so groen nie.
Ons moet seker groot waardering vir ons regering hê. Hierdie opvoedingstakie van hulle het in 2007 begin. Fase een, ek onthou hoe ontsteld was ons daaroor. Chaos in ons stede as die donker ons skielik oorval het. Kerse was aan die orde van die dag, maar stadig maar seker het ons daaraan gewoond geraak. Stelselmatig is die fases verhoog en natuurlik so ook ons humeure, maar gou was ons verlig as ons net fase 3 in plaas van fase 4 het. Wel, verlede jaar is ons deeglik getoets en is ons toe sommer gegooi met fase 6. Saam met die fases was daar ook watershedding. Die feesgety in sy maai in en ʼn donker Kersfees het vir ons voorgelê. Gelukkig kry dit ons nie onder nie en braaivleis met roomys vervang die skaapboud en gestoomde krismispoeding. Ons was verheug toe ons terug geskuif is na fase 4. Super dankbaar, want fase 4 is darem soveel beter as fase 6. Sien julle hoe slim is die regering, hul leer ons om tog so dankbaar te wees vir die bietjie wat hulle vir ons kan gee.
In my eie lewe het ek gesien hoe vinnig ek aanpas by ons nuwe normaal. Ek is deel van 'n stapgroep wat elke oggend kwart voor vyf ons harte uitstort, die wêreld se probleme oplos, huwelike red, en 'n paar moorde voorkom. So tussen al die gepraat kry ons ook ons daaglikse oefening in. Aan die begin wanneer loadshedding in ons staptyd was, dan het jy verskoning gemaak, vieruur opgestaan, gestort en hare geblaas. Vyfuur is jy “gedress en gepress”. Dan sit jy kierietjie regop tot half sewe om jou laaste goedjies reg te kry sodat jy seweuur by die werk kan wees. Gou is ons gemoedere in sy moer in, en vrede by die agterdeur uit. Ons besef dat ons stappie baie meer werd is as ʼn mooi geblaasde kapsel en so ontstaan ʼn nuwe haarstyl. Loadsheddinghare, die natuurlike kapsel wat droogword sonder enige menslike hulp. Dit is bietjie willer as ons geblaasde kapsels, maar ons gemoedere is net soveel beter en daar is vrede terug in ons huise.
Natuurlik is daar nie 'n ander nasie wat so aanpasbaar is as dit kom by tale soos ons Suid-Afrikaners nie. Engels is mos die amptelike wêreldtaal en as jy dit nie kan praat nie, dan gaan die lewe so bietjie moeilik wees vir jou. Nou ons mense wie se eerste taal nie Engels is nie, is maar altyd bereid om die taal te praat as ons nou moet. Soms is ons tenses so deurmekaar dat die persoon met wie jy praat nie seker is wat die probleem is nie, of daar ooit ‘n probleem is , of die probleem al gebeur het, gaan gebeur, aanhoudend gebeur, of nog nooit gebeur het nie. Die woordjie lekker sal altyd in ons gesprekke gebruik word en as dinge moeilik raak slaan ons oor na Mengels. Ons nuwe twaalfde amptelike taal. Maak nie saak hoe krom of skeef dit is nie ons praat hom met ons beste Afrikaanse aksent.
2023, Ons weet nie wat jy vir ons inhou nie, al wat ons weet is dat ons elke dag gedwing word om uit ons gemaksdosies te klim om te kan oorleef in ons land. Dit is nie altyd lekker nie, maar een ding weet ek is dat as daar 'n nuwe uitdaging op ons pad kom, is ons altyd gereed om hom aan te pak.
Comments