top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Wie gee hul die reg?

Vandag is een van daai dae wat ek nou regtig moerig is, en ja ek ken ʼn erger woord, maar ja ek is moerig. Hierdie het alles begin na ʼn reeks van ‘The Loudest Voice’ wat vir my gegaan het oor ʼn man wat vroue misbruik het, omdat hy in ʼn magsposisie is. Dit het my onmiddellik tussen die oë getref dat dié nie net nog ʼn Hollywood-storie is nie, maar dis gegrond op feite en dat dit elke dag gebeur met vroue; ons ma’s, dogters, susters en vriendinne.


Mag – dit is iets wat almal tog so graag wil hê, maar ek dink nie mense besef dat saam met mag kom daar ʼn baie groot verantwoordelikheidsin ook by nie. Nou mens kan op soveel terreine mag hê, as jy in ʼn hoë pos is, meer geld het, beter sosiale posisie, ouderdom, ens. Nou met mag het ek nie ʼn probleem nie, maar ek het ʼn probleem met mense en veral mans wat magsbehep is en dit gebruik om mense te manipuleer en te misbruik. Wat my regtig die bliksem in maak is die manne wat daar bo sit,lekker gemaklik in ‘n leerstoel voor ‘n fancy lessenaar . Te lank skeep hy sy werk af en wie moet die blaam dra? Die juniors wat die maatskappy se geld maak. Geen vrae, geen “ondersoek instel en seker maak wie se skuld dit is nie” – net reguit na die in-die-sop-gooi-sessie. As iemand ‘n bedreiging is, word die uitgewerk, iemand moet tognet nie sy magsposisie oorneem nie.


Nou, hierdie stuk is een van daai stukke dat as die skoen jou pas, trek hom aan. So as dit nie doen nie, los die skoen, en maak jou webblad toe. Ek dans nie braloos om vure met ʼn man op ʼn spitbraai in my vrye tyd nie, hierdie gaan nie oor seksisme nie, maar magsbeheptheid en misbruik.

Ek verstaan dat dit lekker is om in ʼn magsposisie te wees, want mense kyk op na jou.- Of so sê hulle, maar ongelukkig het ek te veel al gesien hoe mense hul magsposisies misbruik.


Eerstens het ek gesien dat mans dink dit is hul reg om te sê en doen wat hul wil en dan praat ek nie eers van die wat dalk iets of iemand in die samelewing is met baie geld nie. Dat hul vind dit is hul reg om onvanpaste aanmerkings teenoor ʼn vrou te maak. Suggestiewe voorstelle te maak en te dink dat dit hul reg is. Ek weet nie of moet ons dit nou as een helse komplement moet beskou dat as die vent nou dink jy is sexy dat jy dit net gelate moet aanvaar nie. Moet jy nou dit wat hy voorstel doen, want hy is dié of daai meneer in die dorp. Natuurlik as hy getroud is weet sy arme vroutjie glad nie dat manlief se oog dwaal nie, of mense is bewus daarvan, maar is bereid om anderkant toe te kyk. Nee meneer, ons stel nie belang in jou of jou geld of jou aansien nie. Gebruik daai energie op vroulief of daai tyd om maniere en waardes aan te leer.


Dan kom dit by verhoudings, ek is ʼn baie gelukkige vrou wat ʼn wonderlike man het wat my baie mooi na my kyk en ongelooflik baie lief is vir my en ek vir hom. Ek het my bes probeer om my kids groot te maak met die siening om hulle partners in hulle lewe eerste te stel en hulle gelukkig te hou. Dit gaan na beide kante toe. Dit is albei se verantwoordelikheid om sy of haar maat gelukkig te maak en te hou. Ook verstaan ek nie waar kry die man die reg om as hy nie gelukkig met die vrou in sy lewe is, dat hy haar maar kan aanrand of selfs doodmaak nie. Verkragting lyk my is die uitermate vertoning van mag. Kan iemand dit vir my verduidelik, want ek verstaan dit nie. Sal daardie man dit gelate aanvaar as iemand dalk sy ma, vrou, suster of dogter so behandel? Is dit die geval van twee stelle reëls in ons samelewing? Doen wat ek sê en nie wat ek doen nie.

Almal wil baie graag die perfekte verhouding hê waar liefde en respek belangrik is. Ongelukkig in realiteit werk dit nie so nie, ons sit met mans wat vrouens soos ʼn besitting behandel, en dan nie eers ʼn kosbare besitting nie. Van respek is daar nie eers ter sprake nie. Die meneer moet die heeltyd gelukkig gehou geword en sy selfbeeld moet gepolish word. Vroutjie moet verander anders is hy nie baie happy nie; eers is dit die hare, dan die gewig en dan hoe sy optree. Hoekom hy haar in die eerste plek gekies het as sy nie aan sy belaglike eise voldoen nie, verstaan ek nie. Voor die huwelik is alles perfek, maar o-genade as daai ring eers aan die vinger is verander manlief in een woeste monster. Woorde los soms dieper wonde as houe. Hoe meer hy haar kan afkraak hoe beter, sy moet tog net nie dink dat sy iets werd in die lewe is nie. Sy brose ego sal dit nie kan hanteer nie. Dan as hy nou moeg is vir die vrou moet sy maar gaan, want vir so patetiese vrou sien hy nie meer kans nie. So is hy dan weer opsoek na sy volgende slagoffer.


Ek is woedend vir mense wat ander as minderwaardig sien en hul ook so behandel, net omdat iemand nie so bevoorreg soos jy is nie, maak dit nie van hom/haar minder menswaardig nie. Ek weet mense sê altyd jy verdien respek, mens dwing dit nie af nie, maar nou sit ek en wonder sal die wêreld nie ʼn beter plek wees as ons almal -ongeag wie of wat die persoon is- met respek behandel nie. Maak jou posisie of geld of wat jy okal dink jy het jou regtig beter as die volgende persoon?


Die feit dat jy skatryk of in ʼn magsposisie is, gee dit jou die reg om jou drange en onwelvoeglike voorstelle op ʼnvrou af te dwing?


Sorry vir jou meneer, jy het nie die reg nie, ons almal verdien om menswaardig behandel te word. Omdat jou pa jou ma so behandel het of steeds so behandel gee dit jou nie die reg om ʼn vrou so te behandel nie.


As iemand nie soos jy is of lyk nie beteken nie jy kan hom/haar uitkryt as sleg of gemors nie. Ons samelewing kry my onder omdat ons dit toelaat. Ons kyk anderpad, want ek wil nie die een wees wat vir ʼn ou sê ‘hey weet jou vrou wat jy doen?’ of dit is nie hoe mens iemand behandel nie, want ons is te bang om op te staan vir ons waardes. Ja, ons baklei teen aborsies, menseregte wat aangetas word, maar ons kan nie opstaan teen boelies nie? Dit is net soveel makliker om soos hul te raak of om weg te kyk. Dit is asof die samelewing sy toestemming gee vir die optrede.

Ons as ouers en volwassenes moet die voorbeeld stel, ons kinders moet leer dat jy die gevolge van jou dade moet dra. Dit is tyd dat ons as ouers die verantwoordelikheid moet neem vir hoe ons kinders optree en hul die regte waardes leer.


“Dit maak nie saak hoe geleerd, talentvol, ryk of hoe cool jy dink jy is nie – dis hoe jy mense behandel wat als van jou sê.” – Rob Hills





180 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page