top of page
Writer's pictureDaleen Frazao

Wie is jy?



So ruk gelede het ek my hare gaan sny en met die betaalslag vra die  dametjie of ek ‘n pensioenaris is. Ek het uitgebars van die lag en gedink as ek so oud lyk gaan ek beslis moet plan maak met daai duur gesigserum, want duidelik werk dit nie. Of was dit my bos grys hare wat my in die groep geplaas het. Ek het nogals oorweeg om ja te sê want ek kon lekker afslag kry, maar ek kon dit nie oor my hart kry nie. Ek het toe maar heel vriendelik die aanbod van die hand gewys en gesê dit is nog so paar jaar voor ek daar is.

 

Later terwyl ek lugkastele bou oor ‘n pensioenaris wees en dink aan totsiens sê vir die onderwyskorps na 20 jaar, dink ek soveel mense vra altyd wat gaan jy met jouself doen as jy by die huis is. Ek gaan nie jok as ek sê dat ek wel bang is vir die groot stap nie. Dit is nogals ‘n skrikwekkende idee vir my om nie meer deel te wees van ‘n veilige ‘bubble’ nie. Jare lank is mense deel van my lewe en skielik hoef ek nou nie meer in die oggend werk toe te gaan nie. Daar is ook nie meer ‘n salaris  nie, maak nie saak hoe groot of klein dit was nie.

 

Ek dink hoe ouer ons word, hoe moeiliker is dit om uit ons gemaksone te kom en nuwe dinge aan te pak.  Solank ons gemaklik is in ons boksie dan is ons happy. Ons bly liewer op ‘n ongemaklike plek en ‘wees’ net. Terwyl ek nog  genoeg oemf het, het ek  besef dat dit tyd is om iets nuuts aan te pak en tyd te maak vir myself.

 

Hoekom moet ek iets met myself doen? Ek gaan nou eers tyd maak om uit te vind wie ek is. Ons vroue stel gewoonlik alles en almal eerste voor onsself. Dis ma, vrou, kollega, chaperone, uberdrywer, kok, sielkundige, verpleegster, raadgewer, polisieman, organiseerder, vriendin… noem dit en ons doen dit.

 

Intussen is manlief tuis en is glad nie opgewonde oor al die rolle wat jy moet speel nie, so daar moet jy ook die perfekte vroutjie wees om die ontstuimige waters kalm te hou. En nooit is daar tyd om net jouself te wees nie. Die samelewing het dan ook nog ‘n eier te lê oor hoe jy moet lyk en optree. Doen jy iets vir jouself, dan word daar kwaai na jou kant toe gekyk en gesê dat jy jou prioriteite moet agtermekaar kry. ‘n Aanhoudende stryd oor wat reg en aanvaarbaar is, vir almal buiten jouself.

 

Ontspan voor jul dink die arme vrou of dalk die vrou se arme man en kinders. Werkende moeders moet nogals uithaal en wys om al die balle in die lug te hou soos ek menige besige vroue hoor sê. Ja, ek het al daai dinge gedoen vir my kids en was nie een oomblik spyt nie, en ek sal dit ook weer doen. Ek het een wonderlike man wat gehelp het waar hy kan, maar sommige dinge kom maar net neer op vrouens en dis deel van ons menswees. Ons stel ander mense en dinge bo onsself. Nou is my kids groot en dis tyd vir my om uit my “bubble” te klim en nuwe uitdagings en dinge aan te pak.

 

Ek wil sommer net op die bank lê en die nuutse Netflix reekse  binge of die week se Magda Louw episode kyk, gaan draf wanneer ek wil, en koffie op die stoep drink. My hare op my kop vasmaak en in my tuin bossies uittrek, stil word en die grootheid van God se genade besef. Om te besef dat mens is nie jou beroep, jou man, kids, of vriende nie. Ja sonder hulle sou ek nie die mens gewees het wie ek is nie, maar wie is ek as ek alleen is? Is ek gelukkig om heeldag alleen met my eie geselskap te wees. Hou ek van die mens as niemand my sien nie? Hoe gelukkig is ek met dit wat ek in die lewe bereik het, nie die status of materiële gewin nie, maar die positiewe bydrae wat ek in my familie en vriende se lewe gebring het. Ek hoor die gonswoord is deesdae wat is jou legacy wat jy nalaat.  Nou ja, my legacy wil ek so graag hê moet nie gaan oor oppervlakkige statussimbole nie, maar oor die positiewe impak wat ek gemaak het op mense om my. Wanneer mense aan my dink my lag sal onthou en nie my kwaai-kyk nie.

 

Om te dink dat mens baie tyd het om al daai dinge te doen of te verander is ongelukkig ‘n mite.  As daar een ding is wat ek geleer het die afgelope paar jaar is dit dat die lewe  jou op baie seer en vreemde paaie gooi en dat tyd ons kosbaarste besitting is. Ons moet dit wat ons nou het gebruik om te doen wat ons gelukkig maak en geleenthede met albei hande aangryp. Ek weet nie wat op my pad gaan kom nie, ek weet wel nou is die tyd om kanse te vat en dit wat my bang maak in die oë te kyk en daai sprong in geloof te neem. Om vrede te maak met my onvolmaaktheid, myself te wees, nuwe dinge te leer, hard uit my maag te lag vir die simpel goed in die lewe, en te huil oor die mooi en die hartseer.

 

Net om te leef en lief te wees terwyl ek die kans kry om dit te doen, want tyd wag vir niemand nie.

229 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page