Ek moet sê 2020 was seker die grootste uitdaging wat ek nog in my lewe ervaar het. Dit is dag 323 van die Lockdown en geen einde is nog in sig nie. Dit was ʼn rollercoaster vandae en ek is regtig nou só oor alles. Ek het wel ʼn paar dingetjies gedoen wat my soos ʼn moderne Wonder Woman laat voel het.
Die eerste ding was toe ons nog in die hard Lockdown was; ek het die dag nadat ek my huis ge-springclean het besluit dat dit tyd is om die vensters te was. Nou kyk, ek verkyk my altyd aan die petroljoggies en hoe flink en vinnig hul jou kar se voorruit was met daai gadget. Hoe moeilik kan dit nou regtig wees? Ek het gelukkig net so een, die handvatsel is ʼn bietjie langer, want “halo” dit is groot vensters wat ek met die ding gaan was.
Vol bravade begin ek die vensters aan die buitekant te was. Dit is nie so maklik as wat dit lyk nie, maar so is ek al sukkelend en swetsend om die huis. Toe is dit binnekant se beurt en dit is hier waar my geduld tot die uiterste beproef is. Soos ek die eerste venster aan die binnekant was, sien ek dat die venster aan die buitekant die ene strepe is. Gaan ek buitekant toe om dit skoon te maak is dit net strepe aan die binnekant te sien. Net daar besef ek dat dit seker die K*kste job op aarde is en het ek nou begrip vir hoekom my huiswerker nooit my vensters wou was nie. Dit is moer moeilik en ongelooflike harde werk. Ek kyk met ander oë na die petroljoggies wat met so breë glimlag jou venster was. Volgende keer gee ek hul nog ʼn groter tip! Nodeloos om te sê ek het drie van my huis se vensters aan die binnekant gewas en toe voel ek in my hart dat ek ʼn medalje moet kry vir die dag se werk.
Toe kom ons volgende uitdaging: Kyk ek is nie ʼn baie waaghalsige mens nie en ek weet ook nie so mooi of die woorde “met die grysheid kom die wysheid” baie waar is nie. So kom praat ʼn suster met ons by die skool oor ʼn Covid vaccine trial wat in ons dorp gedoen word en dat ons onderwysers as frontline workers gesien word. Hulle wil ons deel maak van die trials en vra of ons bereid is om deel te neem. Of dit nou groepsdruk, waagmoed, of plein stupidity was weet ek nie, maar ek en agt ander kollegas toe deel van die groep.
Ek wil julle vertel die is nou ʼn groep mense wat weet wat hulle doen en is ongelooflik professioneel en baie vriendelik. Ek het wel net nie geweet dat hulle ALLES van jou wil weet nie. Hulle weet nou meer van my af as wat my man van my weet. Hulle weet selfs wat ek weeg! Ek het nie eers geweet wat ek weeg nie, my BMI, en alles wat daarmee te doen het.Hulle het net nie my bragrootte gevra nie, maar ek het gesien hulle het my op en af gekyk, so ek dink hul het by hul selwers gedink “ag shame” en toe maar geraai. Jy is gemeet, geweeg, vrae gevra oor jou mediese geskiedenis. Drink jy? Ek het nogal gewonder of dit ʼn ‘trick question’ was, ons is op die einde van die dag ʼn groep onderwysers.
ʼn Week daarna is ons weer terug geroep en laat weet ons is medies geskik om deel van die trial te wees. Weer word jou koors geneem, jou hartklop, bloeddruk, jou suurstoftelling, trek vier buise bloed en natuurlik doen hul ook ʼn neus-swab. Ek was net baie verlig dat ons nie weer geweeg is nie, want ek en my lockdown-kilogramme sukkel om van mekaar afskeid te neem. Volgens die suster is al my inligting soos die van ʼn jong fikse mens. Ai, as sy maar net weet dat ek soos ʼn ou vrou voel as ek in die oggend wakker word.
So breek die groot oomblik aan en word ek inge-ent. Of dit nou die vaccine of placebo was weet ek nie, maar die volgende oggend het ek heel goed gevoel. Dit is nou al drie maande later en daar het nog niks snaaks met my gebeur nie. Ek het ook nie in ander tale begin praat nie, alhoewel ek dink dit sou nou flippen cool gewees het.
Ek het wel al die mense se opmerkings oor die vaccine gelees en wil net sê maak asseblief seker waar jul, julle inligting kry. Dit is verbasend dat mense medisyne sal neem wat nie medies goedgekeur is nie, maar ʼn vaccine wat medies goedgekeur word, as iets van die bose sien.
Vandag het ons gehoor dat die entstof wat gebruik is vir die trial waarvan ons deel was goedgekeur is en die gesondheidswerkers hul entstowwe gaan kry.
Ek voel soos ʼn hero omdat ek deel is van ʼn ongelooflike groot gebeurtenis. Met familie en vriende wat deel van die gesondheidswekers vorm maak dit vir my die ervaring ekstra spesiaal. Covid-19 het ons almal se lewens op sy kop gedraai.
Aan die begin het ons net gehoor van mense wat dit gekry het, en gesond geword het. Baie se reaksies was “ag, dis net ʼn erge verkoue”.
Oornag het dinge verander, Covid het aan ons eie deure kom klop en het ek my ma en ʼn vriend as gevolg daarvan aan die dood toe afgestaan. Familie en vriende is positief en dit was beslis nie ʼn ligte verkoue wat hul opgedoen het nie, maar hulle was wel baie siek.
Nogsteeds is daar mense wat weier om maskers te dra en die entstof word deur sommige as “die merk van die dier gesien”, tog is hulle bereid om diere se medikasie te gebruik om Covid te verhoed.
So ja, die is die twee gebeure in my lewe wat my soos ʼn alledaagse Wonder Woman laat voel het. Ek weet nie of ek sommer weer vensters sal was nie, maar ek sal beslis weer bereid wees om deel te wees van ʼn trial as dit neerkom op lewens spaar.
Die stuk word opgedra aan elke frontline worker wat elke dag op hul pos is vir ons, hulle wat die eintlike heroes is.
Comentários